Dave Pepler se brief uit Ethiopië
DINK GROEN
Dave Pepler se brief uit Ethiopië
In Bahir Dar is die Blounyl in vloed, glo die ergste in meer as 20 jaar, en ons hotel, teen die meer geleë, is van die land afgesny deur ‘n 200m strook water. Ons moes met viertrekvoertuie aangery word na ons eie eiland in die meer. Wat nog erger was, was dat ons meer as 14 uur van Addis Ababa moes ry om daar te kom, en in die stikdonker was dit ‘n nagmerrie om tot ruste te kom. Die nag was kort en vol vreemde geluide en ek kon nie wag vir eerste lig nie. En toe die lig kom, is ek oorweldig deur een van die mees fabelagtige oggende van my lewe. Elke boom, elke struik was deurtrek van voëls – reën bring mos altyd nuwe lewe, nuwe hoop en nuwe aktiwiteit. Vinke in die ruigtes het nesgebou, die mannetjies histeries van testosteroon. In die vyebome het vreemde Oostelike Piesangvreters, ‘n reusagtige loerie, vrugte gepluk en op mekaar geskree: “Dis MY boom, dis MY vrugte, gaan weg!” Houtkappers, visarende, pelikane, muisvoëls en ‘n swetterjoel onbekende geveerdes het gelyk geroepen gesing – nog nooit in my lewe was ek al so oorweldig deur ‘n simfonie van klank nie. En toe besef ek: “Jy is mos in die hemel”. Maar, ek loop my storie vooruit. Die eerste dag van my toer met Live the Journey het begin in Addis Ababa, en ons het padgevat na Bahir Dar, ‘n lieflike dorpie aan die oewer van die Tanameer, en ook die oorsprong van die Blounyl. Ethiopië is waarlik geleë op die dak van Afrika, met die grootste gedeelte van die land op die hooglande geleë. Die pad kronkel soos ‘n slang deur bergpasse, rafyne en teen afgronde wat die oog by tye verwar want die kontaste tussen lug, voorgrond en horison is so subtiel dat mens by tye voel asof jy vlieg. Tot op die hoogtes word die grond bewerk, vir meer as 2000 jaar al, en is ‘n ware lappieskombers van groene en teksture. Teff, die inheemse stapelgras van Ethiopië word orals geplant, altyd in klein lappies. Die gras word met ‘n komieklike sekeltjie gesny, met die hand in hope gedra, en dan, in ‘n toneel uit Bybelse tye, deur beeste en osse op ‘n dorsvloer uitgetrap. Jaagbesems vee die fyn saad bymekaar, en dan gewan in die bergwinde. Mense ry nog op donkies, die huise het mure van klei en strooi, daar is byna geen elektriese toevoer nie, en kos word op houtskoolstofies gaargemaak. In die koring en ryslande, sit klein seuntjies daglank op stellasies en jaag die honger mossies en duiwe weg met ketties. Niks word weggegooi nie want elke byproduk soos strooi en stronke het ‘n bepaalde funksie en waarde – beddegoed vir diere, ‘n komponent van bouklei, vloerbedekking of brandstof. Hier het die lewe, terloops ‘n harde en genadelose lewe, sy eie pas en ritme end it word eenvoudig aanvaar as deel van jou lewensreis. Maar nog meer, hierdie kultuur berus sterk op die oer-oue Christelike geloof wat hoog geritualiseer is. Die kerke, sommige meer as ‘n 1000 jaar oud, word getrou en eerbiedig besoek en dit ruk my elke keer aan die hart as ek na die gesigte van die kerkgangers kyk. Suiwer ekstase en suiwer liefde straal uit almal, van stokoud tot die jongste none en leerlig-priesters. Ons westerlinge sal seker nooit weer by hierdie suiwer en onbevraagde toewyding en godsdienstigheid kan uitkom nie want ons dink ons weet byna alles. Oorrompel deur elektroniese media, losgemaak van die grond en verteer deur gierigheid is ons eerbetoon ‘n leë gebaar. Laatmiddag het ons het teen ‘n hoogte stilgehou om foto’s te neem van ‘n fabelagtige basaltkolom, wat soos ‘n monsteragtige vinger teen die eskarp staan. Ek het eenkant gaan staan met my koffiebeker, en toe merk ek ‘n stuifmeel-geel blom in die ruigtes - Rosa abbysinica, die moeder van byna al die rose op aarde vandag. Net daar onthou ek my ma se roostuin op Robertson, met ou kultivars soos Peace en Papa de Meilland wat sy in digte akkers geplant het. Ons het gerwe rose gepluk en dan het sy dit in koperbakke regdeur die huis geplaas, van voorkamer tot kombuis. En wat dit dit uit te waai met Ethiopië? Alles. Laat in sy lewe is Hennie Aucamp gevra wat daar nog vir hom oorbly in die lewe wat nog plesier verskaf. Sonder om te huiwer het hy geantwoord: “Om vergelykend te kan lees, om vergelykend te kan luister en om vergelukend te kan kyk. Is daar ‘n groter plesier in die lewe? Nee”. En so is dit ook met reis – om vergelykend te kan reis is een van die grootste plesiere van die lewe want dit dwing geheue op jou af, leer jou van jou medemens, en bowenal leer dit jou soveel van jouself. Marthinus Versveld was reg toe hy gesë hat dat mens eers jou eie stukkie aarde moet leer liefhê voor jy liefde of bewondering vir die vreemde kan aanvoel. Hier in Ethiopië, laatnag in my hotelkamer, besef ek opnuut hoe kosbaar my eie land vir my is, en hoe lief ek is vir die berge, bome en klippe van die grondjie waar ek woon. Ons moet elke dag dankbaar wees want die lewe is so kort.
Comments