Upcoming Tours
Call Us: +27 21 863 6400

Dave Pepler se brief uit Madagaskar op RSG se Tjailatyd

Dave Pepler se brief uit Madagaskar op RSG se Tjailatyd

Woensdag 27 Mei 2015

Beste Derrich, beste luisteraars,

Saam met Live the Journey, toer ek deur die noorde van Madagaskar.  Alhoewel ek al ‘n paar maal hier was, is dit die eerste keer wat ek die verre noorde van hierdie magiese eiland besoek.  Ons eerste stop was die ou hawestad van Diego Saurez, eertydse spesery- en slawehoofstad.  ‘n Asembenemende natuurlike hawe, met ‘n nou monding na die Indiese Oseaan, omring deur ‘n komplekse argipel.  Soos mens kan verwag van een van die aarde se mees verbluffende biodiversiteits-kerne, is byna elke spesie hier uniek en endemies – nét hier kom hulle voor, nêrens anders nie.  Die eerste treffende lewensvorm is die donkerbas en somber kremetart van die noorde, Suarez se kremetart, en skielik besef mens dat vyf van die wêreld se sewe kremetarte op hierdie eiland voorkom. Skaars buite die dorpie onderskep ek ‘n hondjie wat besig is om ‘n reuse verkleurmannetjie te treiter.  Die Pantier-verkleurmannetjie, neon-groen, kwaai, kraal-ogie op my gerig, lyk dit na ons tuinreptieltjies op steroïde.  Die hele eiland is in die oortreffende trap!

Van die 13,000 plantsoorte wat hier voorkom, is byna 90% endemies, dis hier waar die lemurs die nis van die ape en bobbejane van Afrika ingeneem het – alhoewel hul primitiewe primate is, lyk hul na katte en honde, met pofsterte en oortrek met liggaamskliere – die Engelse noem hulle “the scented apes”.  Rats soos eekhorings spring hulle deur die kroondak van die reënwoud, behendige handjies, aap-ogies, komplekse geluide – ek kan my dae hier deurbring.  Spesie op spesie, elke woud het sy eie, en eiesoortige lemurs.  Skoenlappers lyk anders hier, die spinnekoppe groter en meer kleurvol, die voëls herkenbaar maar anders – Madagaskar is soos die paradys, maar vir die tweede keer bedink.

Maar, soos ek verlede jaar aan Amore rappoteer het, is hier onrus en probleme in die paradys.  Weet jy Derrich, dat, van die oorspronklike plantbedekking van die eiland, minder as 10% oorbly.  Vlieg oor die eiland en jou mond hang oop – die weghardloop-erosie het die smarag-groen van die woude na roesrooi en steriele aarde omvorm.  Riviere is onbereikbaar met ondeurdringbare some van indringerplante, hoofsaaklik gemmer, die water rooi soos vars bloed.  Orals is tekens van vars ontbossing; rook is die teken van nuwe aarde wat geskep word – maar niemand kom agter dat die nuwe aarde net 3-4 jaar vrugbaar bly nie.  Voor jou oë speel ‘n tragedie van Griekse proporsies af.

Mens vra jou af hoe die inwoners van die paradys kan toelaat dat hierdie juweel vernietig word, dat die res van die wêreld kan toesien dat een van ons kosbaarste natuurskatte só verwoes kan word.  Armoede en onkunde vanaf Madagaskar, en van die res van die wêreld?  ‘n Gebrek aan belangstelling in ‘n klein landjie sonder benutbare hulpbronne.

Wat staan ons dan te doen?  Ek gaan herhaal wat ek verlede jaar gesê het: Madagaskar is deel van Afrika, en die inwoners is ons broers en susters.  Hieruit vloei dat dit ons morele plig, as Suid Afrikaners is, om hulle te help met elke beskikbare gebaar, werktuig in ons wetenskaplike “toolbox”, en met geld.  Afrika, opgefoes soos dit is, staan uniek in die wêreld dat daar geen groot uitsterwing van spesies was nie.  Ons het die kwagga, Kaapse Leeu en die bloubok verloor, maar tog hou die berggorillas, die stomme renosters en vele ander uit.  Afrika is die aarde se beste en grootste buitelug-labratorium, en in Suid Afrika is daar oorgenoeg kundigheid om hierdie tragedie in sy spore te stop. 

By die dag besef ek, meer en meer dat mens nie ‘n lewensgewende ekonomie op ‘n bankrot ekologie kan bou nie.  Madagaskar het ons so nodig soos ons Madagaskar as wêreldskat nodig het.

Foto’s van my reis is by Facebook: Dave Pepler

Comments