Upcoming Tours
Call Us: +27 21 863 6400

Dave Pepler se brief uit Ysland

Dave Pepler se brief uit Ysland

DINK GROEN
Dave Pepler se brief uit Ysland

En toe begin die aarde bewe. Ewe onskuldig reis die Live the Journey-groep in die noordooste van Ysland, toe ons toergids, Sven, skielik ‘n selfoon-oproep ontvang. Die nuus? Verborge, in die wit horison, het die Bardarbunga-vulkaan, onder die 500m laag ys van die grootste gletser in Ysland, Vatnajokull, skielik wakker geword. Een skudding op die ander en ‘n koepel vorm wat deur satelliete waargeneem kan word. Tipies Suid Afrikaner, gryp almal hul kameras en mik horison-toe Laat die vuurwerke begin! Tot Sven ons vertel het wat regtig aan’t gebeur is.

Presies dieselfde ding het gebeur in 2010 toe Eyjafjallajokull (Aja-falja-jokkel) onder dieselfde omstandighede uitgebars het en die lugverkeer in die noordelike halfrond tot stilstand gedwing het. Die groot gletser lê wydsbeen oor ‘n streep vulkaniese aktiwiteit wat strek van Laki en Hekla in die suide tot by Bardarbunga in die noorde. Al hierdie vulkane het een ding in gemeen: hulle maak dood!

Toe Laki in 1783 ontplof het, is 14 kubieke kilometer as en magma die lug ingeskiet. Die aswolk is gesien tot in Sirië, meeste diere in Ysland is dood aan floriedvergiftiging en een vyfde van die eiland se bevolking het gesterf. Die skaal van hierdie gebeure is moeilik om binne konteks van ons gemaklike en veilige lewens te verstaan. Een klein aanpassing in die aarde se mantel veroorsaak dood en skade oor halfronde heen.

Dalk het die tyd aangebreek dat ons ‘n herbesoek moet bring aan ons persoonlike verhouding met die aarde, die grond en die klippe. Toemaar, ek bepleit nie primitiewe seremonies, swart katte om middernag of besemvlugte nie, ek wil eerder praat oor respek. My belangstelling in die bodem en in die natuur as inspirasie en troos het begin toe ek die eerste keer die werk van Gary Schneider raakgeloop het. Só praat hy:

“Die natuur is nie daar om besoek te word nie. Dis ons tuiste”.
“Vind jou plek op aarde. Grawe jou daar in en begin verantwoordelikheid aanvaar”.
“Sonder ‘n omgewing kan daar nie ‘n pad wees nie en sonder ‘n pad kan ons nie teruggaan huistoe nie”.

Ek bekyk my medemens (wat ‘n lieflike woord is dit nie), en wonder waar ons hierdie eerlike pad bystergeraak het. Hoekom dink ons dat eie waarde aan besittings geskat kan word? Wat op aarde het ‘n reuse woning vol klatergoud te maak met ons siele? Hoe tragies dat is dit nie dat ons die internasionale as die universele aansien nie.

Daar is nie genoeg jare in ons lewens om na Bach se tjello-sonates te luister nie, daar is nie genoeg nagte oor om te verdwaal in die ewige wysheid van die meditasies van Markus Aurelius nie. Hierdie werke is so oud soos die mensdom self, en bewys oor en oor dat daar werklik niks nuuts onder die son is nie. En die begin van alle wysheid is stilte, die aarde en respek daarvoor.

Hier kom my ou mantra al weer. Leer om jouself lief te hê, en hieruit sal selfrespek dan voortkom; dan is jy reg om jou medemens en die aarde te respekteer en lief te hê. Dan sal jy besef dat besittings en geld nie geluk en wysheid kan koop nie, inteendeel, dit sal jou see-anker wees in die lewe. Gaan staan buite, en soek ‘n klip. Gaan sit by die klip, vat daaraan en wees dankbaar dat jy ge-aard kan wees.

Comments