Dave Pepler se Erfenisdagbrief uit Marokko
DINK GROEN
Dave Pepler se Erfenisdagbrief uit die vreemde
Dis net voor dagbreek en ek sit op die balkon van my hotelkamertjie in die hart van Fez, Marokko. Die lieflike ou stad voor my het al ‘n mark gehad in die jaar 800 – toe reeds was hier ‘n lewende stad, met stoombaddens, dadelpalm-boorde, en kamele wat sout gedra het uit die hart van die Sahara – maar, bowenal was hier mense. Mense wat gehoop het, handel gedryf het, liefgehad het, gedigte geskryf het, en gesterf het. Eintlik is Fez ook my erfenis.
Om te reis gee mens ‘n kristalhelder blik, nie op die vreemde nie, maar op jouself. Jou wêreld is gereduseer na ‘n koffer, ‘n bus, en ‘n trein en skielik is jy losgesny van die bekende. Dis ‘n kosbare ervaring want dit gee mens kans om bestekopname te maak, nie net van jouself nie, maar ook van die ruimte wat jy vir jouself op aarde geskep het. Hierdie ruimte bevat jou fisiese liggaam, jou selfbeeld, selfrespek, jou seining van ander, liefde en haat, maar die belangrikste van almal, jou verhouding met hierdie stukkie aarde waarop jy daagliks staan.
My erfenis begin dus met myself. Saam met my liggaam kom daar ‘n konstellasie van elemente soos my geheue, my woordeskat, my stem en ook daardie geheime pakkie wat ons die siel noem. Hierdie pakkie is uniek, byna soos ‘n lieflike kristal wat versteek is in rots. Ek beskerm my siel ten alle koste want hieruit word my pad op aarde bepaal.
Netso belangrik is my taal. Wat sou ek wees sonder Afrikaans? Absoluut niks! Gee my blindheid, laat my ore verdof, neem my smaak weg, maar los tog net asseblief my stem. Met my stem besing ek die wêreld, kan ek my liefde aan mense en landskappe oordra en kan ek my dank aan die heelal oordra. Hoe geseënd is ons nie met geheue nie! Los my in die skadu van ‘n witgatboom in die Namib en ek kan enigeits oproep – ‘n skildery van Gaugain, ‘n strofe van ‘n gedig, die gesig van .n geliefde, maar altyd is hierdie beelde gekoppel aan woorde. Juis daarom is die Woordeboek van die Afrikaanse taal so kosbaar – opgesluit in een gebou en ‘n pragtige reeks boeke is my geiefde Afrikaanse woorde. Daar is geen groter eerbetoon aan jou erfenis as om juis die WAT te gebruik en te ondersteun nie. Borg ‘n Afrikaanse word en maak dit jou eie.
My erfenis is ook die aarde, want my huisie, my dorpie, provinsie en land staan rotsvas op die aarde. Kom ons begin ons erfenis eerbiedig deur ons eie stukkie aarde te respekteer. Trap saggies op die grond, ploeg netjies, ry versigtig daarop, want die aarde is broos en kan so maklik seergemaak word. Onthou elke dag, dat soos by die mens, behou die aarde sy letsels. Ek wil sterf in die wete date k nie tot die aarde se seerkry bygedra het nie.
My erfenis eindig by mense. My broers en suster is tot veel domheid, wreedheid en ongeergdheid in staat – maar, kyk krities na jouself en wees eerlik – ons maak foute, daagliks. Erfenis beteken dus dat ons moet glo dat mense tot groot nobiliteit in staat is. Respek aan ander is die basis van ‘n beskaafde bestaan, ons moet dit altyd onthou. So, hoe sal ek vandag my erfenis vier? Ek gaan ‘n blaar van ‘n peperboom in my hand hou, ek gaan ‘n vreemdeling befeefd groet, ek gaan met nuwe respek kyk na ‘n ryp tamatie wat die aarde my gegee het, en ek sal ‘n kat in ‘n nou straatjie streel. My erfenis is om my.
Dave
Comments