Dave Pepler skryf uit Uganda
Dave Pepler toer op die oomblik saam met Live the Journey in Uganda. Hier is'n brief wat hy vir Amore by RSG gestuur het.
25 Junie 2014
DINK GROEN
Dave Pepler se brief deur die blare – Bwindi Ondeurdringbare Woud, Oeganda.
Die skuifdeur van my kothuisie in Bwindi-woud staan oop vanaand want dit is koel, en die muskiete is traag om te vlieg. Ek hoor paddas, die jenewer-helder stroom uit die woud spoel oor klippe, en nou-en-dan hoor ek naggeluide wat vreemd is aan my oor – is dit ‘n onrustige aap, ‘n kat, of is dit net my verbeelding, totaal op hol na ‘n oordaad van indrukke? Dis byna die einde van my verkenning van Oeganda met Live the Journey, en beide ek en die gaste het begin stil word. Mens kan jou nie indink oor die dinge wat ons gesien het nie – van ‘n vaart op die Witnyl, die hemelse watervalle by Murchison Falls, sjimpansees aan die voete van die Maanberge en die ongeëwenaarde vlaktes van Queen Elizabeth Park – hier teen die einde sak die almal stilte toe. Dis nie net die die visuele nie, maar stadig begin die besef ook posvat dat ons te make het met ‘n ander leefstyl, ‘n ander manier van die wêreld beleef. Reg uit die staanspoor het die opmerkings gekom oor hoe vriendelik, vrygewig en inemend die mense hier is – juistemeer indrukwekkend omdat hulle so min het. Ons toerleier, Medi is so ‘n mens. Sy besorgdheid, ware warmte en heeltydse ondersteuning laat mens wonder of ons westelinge die kuns van mededeelsaamheid en gemeenskap nie lank reeds verloor het nie. En, Medi is ‘n Muslim. Wat kom eerste by mens op oor hierdie woord? Selfmoord-bomaanvalle, mutilasie van vroue, die onmenslike foltering van kinders in Ghana? Ja, daar is sulkes, maar ons moet onsself gedurig herinner dat growwe veralgemening ons kan afstomp van ons broeders en susters, ons medemense - mense met verlange, pyn, hoop en liefde, net soos ons. Kyk jy dan na die suksesse ten opsigte van bewaring hier in Oeganda, het ons veel te leer by hulle. Die klassieke parke soos Bwindi, Murchison Falls, Kigali en Budongo staan reeds sedert die 1950’s, gebasseer op die klassieke Europese bestuursmodel, maar sederdien het ‘n wonderlike Afrika-benadering en wyse van bestuur hier ingekruip. Kos en drank soos koffie en tee kom uit die onmiddelike omgewing, jy eet vis uit die rivier en meer wat voor jou balkon lê, die vrugte staan teen die pad, en die vleis wei teen die grense. Natuurlik is daar whiskey en gin, sardientjies vir ontbyt, maar die ruggraat van die spyse is plaaslik. Om die westerse luukses aan te bied as hoogstyl is ‘n oordeelsfout – gee my dan veel eerder inheemse en plaaslike eerlikheid. Ons mag nooit skaam wees vir eenvoud nie want hier word gedeelde ondervinding ‘n nagmaal. Drie dae gelede het een van ons gaste, op my aandrag nogal, daardie tropiese hemelvrug Jackfruit probeer, want my eerste kennismaking met hierdie malse vrug was in Dar es Salaam, toe ‘n wêreldvreemde Indier my genooi het vir roomys by Slipway, waar die Mzungu’s (die universele Afrika-woord vir Europeers) uithang. Ek sal nooit die smaak vergeet nie – êrens tussen pynappel, lietjie en grinadella – en dis juis hoekom ek dit met die gaste wou deel. Binne sekondes het sy ‘n hewige reaksie getoon en ‘n rou kol het teen die binnekant van haar lip uitgeslaan. Jy ken mos ons boeremense - almal het hul buidels oopgenmaak, en die rate het ingestroom – maar niks wou help nie. Laatmiddig kon ek sien dat sy erge pyn het en ek ons drywer gevra of ons ‘n kliniek kon besoek. Na 5 kom ons by Bwindi se piepklein hospitaaltjie aan, onseker en bang, want dis mos Afrika. Absoluut niks kon ons voorberei op die warm ontvangs, die vriendelikheid en besorgdheid nie. Seker! Hulle kan help. ‘n Belaglike fooitjie later, sit ons in die nederige kantoortjie van ‘n bleek Skotse dokter wat vir ‘n jaar kom vrywillige diens doen. Met Eurpese deeglikheid het hy haar ondervra, ondersoek en ‘n handvol medikasie in die hand gestop. Net daar tref dit my. Ons berus ons so maklik op tegnologie, modern wetenskap, westerse infrastruktuur en ‘n manier van doen. Natuurlik werk dit goed, want ons lewe op ‘n baie hoë vlak. Ons kinders het tablette op skool, ons televisiekanale word van sateliete gekaats en ons aarbeie word ingevlieg van Kenia. Maar, daar is ook ‘n ander manier van doen, een wat die eenvoud sentraal stel. Kom ons herinner onsself dat hierdie ander manier van omgang met die natuur, en daarby ook die mens, ‘n warm hart het. Gee my enige dag ‘n hart, want saam met ‘n hart kom daar deernis en hoop.
Groete van deur tot deur,
Dave
Comments