Dave se brief uit Madagaskar op RSG
Woensdag 16 April 2014 op Tjailatyd Met Amore Bekker
DINK GROEN
Liewe Amore, liewe luisteraars,
Vir iemand so reisvoos soos ek isdit verblydend dat ek steeds opgewonde kan raak oor onverkende bestemmings – net sodra ek reis afsweer, doen ‘n nuwe verkenning hom voor, my weerstand stort in duie, en daar staan my koffer alweer by die hek.. Is julle verbaas om te hoor dat ek en Live the Journey op pad is na Madagaskar, die oudste eiland op aarde? Toe Gondwana nog super-kontinent was, was Madagaskar ‘n hoë plato in die hart van die reus – met die opbreek en wegdryf na ons bekende kontinente het Madagaskar, met sy kosbare baggasie van oer-dier en plant, afgesonder bly sit in ‘n warm tropiese see. Afsondering, water en hitte is die idiale resep vir lewe, en deur kompetisie, inteling en tyd het die mees verstommende versameling diere en plante op aarde ontwikkel. Ek droom steeds van my vorige besoek aan hierdie vreemde plek – die geel/oranje oë van ‘n lemur wat jou stip aankyk terwyl jou brein spook om die dier te plaas. Is dit ‘n kat wat soos ‘n aap lyk, of ‘n aap wat na ‘n kat lyk? Op ‘n woudpaadjie verskyn daar skielik pote aan ‘n stuk boombas en ‘n gekamoufleerde geitjie stap weg. ‘n Verkleurmannetjie so groot soos ‘n middleslag likkewaan stap oor jou voorarm – het George Lucas die dier vir Srar Wars ontwerp? Maar Madagaskar het ‘n donker hart, die mens. Alhoewel die eiland reeds meer as 2000 jaar bewoon is, het die onvolhoubare oorbenutting van hierdie kosbare hulpbronne eers redelik onlangs uitgeslaan. Kyk jy na satellietbeelde van die eiland word twee dinge duidelik – eerstens, die byna totale vernietiging van die eertydse woude en tweedens, die skrikwekkende erosie wat miljarde tonne kosbare grond op die koraalriwwe stort. Elke rivier is omsoom met ‘n ondeurdringbare kors van gemmerplante, bekend as een van die mees aggresiewe indringerpalnte op aarde. Vleilande verdwyn en word omskep in rysplantasies. Teen hierdie tempo kan geen geslote ekosisteem oorleef nie. Die grootste tragedie is dat die eiland nou omskep word in ‘n versameling kleiner eilande, maar permanent afgesny van mekaar. Madagaskar is uiteraard nie die enigste bedreigde ekosisteem op aarde nie, en onsweet dat Borneo en Vietnam in ‘n veel erger toestand van ekologiese agteruitgang is. Maar ons vergeet dan die eiland deel is van Afrika en juis daarom het ons ‘n verpligting om te help en raad te gee. Mag ons aan ons bure voorskryf? Op die gebied van natuurbewaring het ons die volste reg want Suid Afrika het ‘n trotse en ryk geskiedenis van navorsing en kennis op hierdie gebied. Dit bring my by my sedeles uit die wolke. Hoe tragies is dit nie dat Suid Afrika behep is met dinge van ego en van die oppervlak, liefs as om ons kosbare tyd te geen aan die aarde wat ons so lankmoedig dra. Ek is dankbaar dat ek kan ontsnap van amfiteaters, brandpoele en beeskrale, van histerie oor die minuskule detail van ‘n jong vrou se tragiese dood, en van politieke lawwigheid en my kan gaan verlustig aan die wonderwerk van vervlegde lewe. Ons kan nie almal bekostig om te reis nie, want daar is te veel mense in ons land wat daagliks verbete veg om oorlewing. Ons het nie almal die wetenskaplike kennis om die natuur en sy goue web van lewe te verstaan nie, nie almal gee om nie. Kom saam, die wat nog ‘n hart het, kom saam die wat nog omgee en kom ons probeer om nie eilande te maak van eilkande nie, om nie eilande te maak van mense nie, en bowenal, om nie eilande te maak van onsself nie. Die aarde skuld ons niks, inteendeel, ons skuld die aarde soveel. Kontak vir Live the Journey om meer uit te vind oor hulle unieke toere.
Dave
Comments