Madagaskar
La Grande Île. Die groot eiland. Madagaskar. Eenduisend kilometer van kontraste – woestyn én reënwoud, rysland én koraalrif – uitgestrek in die Indiese Oseaan langs Afrika.
As jy reguit suid vaar vanaf die suidste punt van Madagaskar, is daar niks behalwe grys see en wilde storms tot jy Antarktika 5 000 km verder bereik nie.
Madagaskar ís die eiland op die einde van die aarde, soos die Malgassiese digter Flavien Ranaivo dit beskryf het. Marco Polo het nooit daar voet aan wal gesit nie, maar hy het reg geraai toe hy geskryf het dis “een van die grootste en beste eilande in die wêreld,” lees ek in ‘n National Geographic uit 1967.
Die skrywer HG Wells se verhaal Aepyornis Island gaan oor ʼn versamelaar wat Madagaskar toe is om te gaan soek na ʼn reuse voël met eiers so groot, volstruiseiers lyk soos hoendereiers langs hulle.
Dis ʼn wilde, vreemde wêreld. Byna al die inheemse diere kom nêrens anders ter wêreld voor nie – en wie is beter as Suid-Afrika se groen-ghoeroe, Dave Pepler, om jou op ʼn Live the Journey-toer deur Madagaskar te begelei.
Mens vergeet nie die eerste keer as jy in ʼn lemur se goue oë kyk nie, en die hiert! as ʼn paar ‘mak’ lemurs op jou kop of skouers spring en in jou hare begin rondvroetel nie, maar nét so onthou jy die rare blaarstert-geitjie in die reënwoudpark Parc National Montagne D’Ambre, wat die ligene op boombas mimiek om hom te kamoefleer.
Nét so onvergeetlik is die vreemde gevoel as ʼn Panter-trapsuutjie (Furcifer pardalis) voetjie vir klewerige voetjie op jou bo-arm rondwandel.
Sit voet aan die eilandjie Nosy Be (teen Madagaskar se noordwestelike puntjie) en dit voel kompleet asof jy in ʼn Indiese Oseaanse Tahiti aangeland het. Palmbome, wit strande, vissers in uitgeholde boomstomp-kano’s.
As jy op Hell Ville (vernoem na ʼn ou Franse admiraal) van die vliegtuig afklim, ruik jy die swaar soet geur van ylang-ylang, en die bome se takke hang swaar van die geelgroen blommetjies. By die fabriek lê hulle in tamaai hope voor hulle in antieke boepens-koperketels gedistilleer word. Byna honderd kilogram ylang-ylangblommetjies word gebruik vir twee liter olie-konsentraat.
Dis ʼn eiland van geure en smake. Peper, vanielje, koffie, naeltjies. En dan is daar die be-rum-de Nosy Be rum.
Dis Nosy Iranja wat jou laat verbeel jy is Robinson Crusoe se niggie. Op die lemur-eiland, Nosy Komba, bekyk die Sifaka-lemurs jou uit die bome. Die gidse roep hulle maki-maki-maki en lok hulle met piesangs nader.
Daar is amper 60 soorte lemurs (spesies en sub-spesies) in Madagaskar, van die 25-gram pigmee muis-lemur tot die reuse Indri van 9,5 kg.
Op Nosy Iranja doen jy nét wat jy wil. Jy dobber in die louwarm turkoois water, bak in die son, koop van die tradisionele houtwerk en linne waarop groot skilpaaie geborduur is. Jy eet soos Crusoe op die strand. Hier is ʼn tafeldoek oor ʼn ‘tafel’ van sand, en die heerlikste visgeregte. Dis moeilik om jouself weer na die motorboot weg te skeur vir die terugvaart na Nosy Be.
Madagaskar is Afrika, Indië en Suidoos-Asië. Die kulture en gelowe (en ʼn paar dosyn bygelowe) is daar so vermeng soos die speserygeure – en die oliedampe van die stokou Renault 4’s – in die lug.
Comments