Martelize maak oorlog teen gemaksones in die middel van die groot niks
deur Hanlie Retief
“Uitdagings in die lewe is soos hierdie duine voor ons,” raak Martelize Brink filosofies terwyl sy mik om die 200 m hoë Namib-duin in haar iPhone-foto te pas.
“Voet in die hoek met jou 4x4 boontoe, maar jy kom net driekwart en dan gly jy weer terug in jou spore, rev jou enjin en probeer weer.” Jurgens Schoeman en Live the Journey het ons genooi om vir ’n paar dae twee effens mal Skotte te volg wat 504 km tussen Lüderitz en Walvisbaai sandlangs hardloop. Live the Journey se span is verantwoordelik vir die logistiek van dié epiese tog. Verder het Jurgens ook besluit dat as Martelize vir gorillas teen Rwanda se berghange kon gaan kyk (in 2013 saam met Live the Journey), kan sy netsowel ook -Namib toe kom, al is die uitdagings 15 keer groter. “Sy sal kan teruggaan en ’n paar ander in dieselfde omstandighede – ag, sommer almal – inspireer.”
Martelize lag: “Hy’t my ’n paar keer ernstig herinner: ‘Maar jy moet net wéét dit gaan moeilik
wees, hoor.’ ”
Jurgens: “Dit moes vir haar ’n ongelooflike uitdaging wees om daar klaar te kom met ’n rolstoel en minimum geriewe,” sê hy met sy Wellingtonse bry.
Martelize se uitdaging is ’n ewe groot uitdaging: Hoe om jou rolstoel meer as een tree te beweeg in dié los sand. Veral op pad, um . . . toilet toe.
Martelize: “Ag nee man, mense kyk vas teen probleme en sien nie oplossings nie. Dis soos om hier te kom en te besef jy sal nie kan vorentoe in die sand nie, maar oukei, kom ons re-verse nou maar, dit werk makliker.”
Dié wat vir Martelize ken, weet min skrik haar af. Inteendeel, dié RSG-aanbieder is hardkoppig verby. Sy vra nét vir hulp as sy rêrig nie anders kan nie.
“Ek is ’n weird mens, ek sê ja vir goed sonder om te dink. Want as jy eers begin dink, doen jy dit nie. Toe ek weer sien, toe’s ek in die ¬Namib.”
Éintlik, sê sy met haar groot glimlag, as jy reg ingerig is, kan jy onbeperk toer en kamp – in ’n rolstoel. “Jy moet net jou groove kry. Ek is geweldig gemaklik, ek slaap heerlik en ek het myself vanoggend in ’n kommetjie water 100% gebad.”
Jurgens sien dit keer op keer as mense Namib toe kom: Hulle verander voor sy oë. “Terug by die huis moet ’n mens jouself knyp om nie weer terug te val in ou roetines nie, maar ten minste dink jy vir ’n paar dae anders oor die lewe.”
Martelize: “In Rwanda het ek dieselfde ervaring gehad. Jou lewe verander nie, maar jy kry nuwe perspektief. Jy kom agter met hoe min jy kan regkom. Ek het ’n probleem met gemaksones. Nee, ’n persoonlike, professionele óórlog teen gemaksones. Ons steek so vas in ons koppe.”
Die groot toerisme-aanloklikheid van Rwanda is die wonder van die gorilla. ’n Spesie wat deur middel van goeie omgewing-bestuursingryping verdriedubbel het na bykans 800. Ek het nooit gedink dat enige mens, nog minder ’n persoon in ’n rolstoel so naby aan hulle sou kon kom nie. Binne ’n meter stap hulle verby jou; bekyk jou uit die bomeprag van die bergvulkaan in Rwanda. Ek is so dankbaar vir die plaaslike bevolking wat besluit het om mandjies te weef waarin hulle mense, wat nie die berg kan uitklim nie, dra. Vier-man berg op. Die gorillas maak elke aand nes op ’n nuwe plek agter kos aan. Dit maak die tog na bo nog moeiliker, Maar die manne wat dra is heeltyd net besorg oor of jy nog gemaklik is.
“Ek sou meer sulke goed wou doen, as dit nie so ’n impak op ander mense gehad het nie. Uitdagingstres is oukei. Jy werk dit vir jouself uit. Ek kyk hoe die rolstoel moet staan, hoe ek kan oorskuif.”
“Dis nogal ’n ding wat ’n mens se siel breek,” sê Martelize, “as jy dink daar’s iets wat so cool sal wees om te doen, maar dis jou nie beskore nie. En dan, wonder bo wonder, gebeur dit tóg met jou.”
Martelize se rolstoel mik na die migrasie: as jy saam wil toer lees gerus meer hier
(Verkorte weergawe van oorspronklike Rapport-berig)
Comments